Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe страница 9

Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe

Скачать книгу

Nell se deeglike ou hand nie alleen vetter geword nie, maar ook ’n paar dinge ingesien. Ek vertel haar nou die dag van die goeie Duitse sendeling wat nou by die Tegniese Kollege gaan Xhosaklasse gee, en ons het nou twee jaar met swak onderwysers gesukkel [hulle het albei vantevore saam Xhosa-klasse begin neem]. ‘Nee,’ sê Rykie, ‘dit moet ek vir eers los, ek moet nou eenvoudig minder doen.’ En ek merk ook dat sy punt daarvan maak om saans voor elfuur in die bed te kom. Daaroor is ek nog dankbaarder as oor die tien pond wat sy swaarder geword het, want jare al probeer ek Rykie oortuig daarvan dat sy meer aan haarself en haar gesondheid moet dink as aan al die mense wat so tydig en ontydig op haar aansprake maak. Nou sien sy dit in!”93

      In dieselfde brief spreek Bouwer haar kommer uit oor Van Reenen se probleme, ook finansieel, met die plaas, haar sorge om haar ma en die feit dat ál Van Reenen se vrye tyd deur die plaas in beslag geneem word. Net Van Reenen se intieme vriende het geweet watter wroegings sy deurmaak omdat – soos Bouwer skryf – “Rykie oënskynlik so alles kan hanteer”.

      “Sy kan feitlik nooit ’n naweek êrens heen nie, net met moeite, en op die oomblik betaal die plaas nog nie so dat sy met geruste hart die saak kan laat voortgaan nie. Daar is altyd kwellings, veral geldkwellings. Die ou voorman is betroubaar – sy vrou is eintlik die boer – maar het ook nie juis soveel insig dat hy Rykie baie raad kan gee nie. Sy moet nog die dinkwerk doen. Maar nou aan die ander kant, Waterkloof is vir Rykie veel meer as net ’n besitting en sy sien nie kans om sonder meer daarvan afstand te doen nie. Maar sy moet dit na die een of ander kant toe begin bedink. Nou ja, as sy die kwelling van haar ma nie had nie, was dit met die plaas moontlik makliker. Dis soos TaMiem skryf, drie dinge [haar stiefma, die plaas en haar joernalistieke vaardighede] wat al drie bates is, maar hulle moet tydelik geskei word. Ek weet nie mooi nie. Maar wat wel goed is, is dat Rykie nou beter insig in die hele saak begin kry en begin sien dat iets gedoen moet word. Tevore was sy bang om daaroor te dink, en ’n mens kan dit begryp. Dis alles erg ingewikkeld.”

      Bouwer skryf verder: “Wat my dronkslaan, TaMiem, is dat nóg haar pa nóg haar ma se familie die vaagste benul skyn te hê van wat Rykie deurmaak, veral ten opsigte van tant Bettie … Hulle ken tant Bettie se streke en obsessies, maar reken, soos so baie mense en vriende van Rykie, dat Rykie so kapabel is en so ligtelik oor alles gaan, dat sy wel regkom. En, soos ek Anna [M.E.R. se dogter] vertel het, Rykie was so na aan ’n algehele ineenstorting soos ek niemand nog gesien het kort voordat sy hier weg is nie.”

      In dieselfde tyd, op 28 Februarie 1959, skryf Van Heerden aan M.E.R. oor Van Reenen se toestand, en “betig” haar in haar eiesoortige Afrikaans oor moontlike raad wat laasgenoemde nie aan Van Reenen moet gee nie: “Liewe TaMiem, daar kan eintlik nooit te veel briewe van jou kom nie! Rykie was al weg [sy was toe reeds terug in die Kaap]. Sy hou nie eintlik daarvan nie dat mens oor haar gesels. Ek kan jou dus nie so uitvoerig skrywe nie as ek anders sou gedoen het. Wat ek wel kan sê is dat sy hoewel baie beter as toe sy gekom het, nog glad nie reg is nie. Ek onthou nie presies meer wat ek vir jou gesê het in my laaste brief nie, wat joune gekruis het.”94

      Van Heerden skryf dan oor ’n infeksie wat Van Reenen se “bloedbeeld lelik geaffekteer het”. “Daar is ook nerveuse symptome wat ek liewer nie oor wil uitwei nie, want dit lyk my so asof ek oor dinge praat wat sy dalk liewer nie wil hê nie. Dit kan ek jou wel sê (wat ek van die huislike omstandighede weet, het ek van Alba gehoor, wat dit goed ken) is dat jy Rykie se Public Hero no 1 is – haar eie woorde – en ek was doodsbenoud dat sy met jou sou praat, want jy het my geskrywe daardie ma is haar job en mens kan nie jou rug op jou job draai nie. As jy ooit vir Rykie so iets sê, dan sal jy haar groot skade doen. As sy nie baie gou van die ma wegkom nie, sal die gevolge noodlottig wees. Sy sal breek. Sy sal breek. Sy is nie sterk nie, het ’n exotiese gewete en sou haarself, haar gesondheid en haar skryftalent daarvoor opoffer.”

      Dit was juis toe Van Reenen weer in 1959 by Van Heerden in die Vrystaat herstel het, dat M.E.R. ’n “preekbrief” aan Van Reenen skryf, wat sy afsluit met: “[A]ntwoord nie nodig nie. ’n Preek is mos maar van eenkant af .”95 Sy het ook raad gegee oor Van Reenen se drie “verantwoordelikhede”: haar ma, die plaas en haar joernalistieke werk.

      In ’n latere brief dieselfde jaar blyk M.E.R. se kommer oor haar Kaapse kind nadat sy na Van Reenen se ma in die Strand verwys het: “Is sy tevrede? Sien jy haar dikwels? Gaan dit reg op die plaas? … En rus jy soms? En eet jy behoorlik? En waar woon jy?”96

      Hoewel dit volgens Bouwer sigbaar beter gegaan het met Van Reenen nadat sy in 1959 van die Vrystaat teruggekom het, het dit vir dié werkolis en persoon wat graag vir almal uit die pad gegaan het, nie sommer makliker gegaan nie. Einde 1960 skryf Bouwer weer aan M.E.R.: “Dan was daar Rykie. TaMiem weet self vir haar sal ek baie ver gaan. Sy het hierdie jaar swaargekry. Maar ek hoop dat dit daar ook nou beter sal gaan.”97

      Maar dit was nie die einde van Van Reenen se persoonlike swaarkry nie. Haar familieplaas se uiteindelike verkoop, Van Heerden se klaarblyklik sorgsame dog veeleisende vriendskap en die aanspraak wat sy op Van Reenen se tyd gemaak het, en, laastens, haar ma, het bygedra tot haar kwellings, hoewel sy hulle klaarblyklik op die oog af telkens kon oorkom.

      Op 20 Januarie 1964 probeer M.E.R. tog klankbord oor Van Reenen se verskeurdheid tussen die plaas en die joernalistiek: “om vas te stel, is jy boer of skrywer?” Oor die boerdery het sy wat M.E.R. is, nie so helderheid nie. Maar, skryf sy, “wat die skrywersloopbaan betref, daaroor het ek helderheid”.98 Van Reenen hóórt in die woordwêreld, was M.E.R. se oorwoë oortuiging.

      Nadat sy amptelik terug was in die joernalistiek, het die plaas steeds ’n groot deel van haar bestaan in beslag geneem. Van Reenen het haarself eindelik oorreed om die plaas te verkoop ’n jaar of wat voordat sy in 1965 na Johannesburg verplaas is.99 Dit was ná baie wroeging, veral omdat sy so na aan haar pa was en dit steeds vir haar ’n band met hom was.

      Bouwer, een van Van Reenen se getrouste kamerade, skryf in 1964 aan M.E.R.: “Rykie het een aand, vandat sy die aanbod gekry het [om die plaas te verkoop], met ons kom praat. Hubert [Coetzee, Bouwer se eerste man en toe uitvoerende hoof van Naspers] sê toe aan haar: Jy moet vir jouself besluit of jy twee jobs kan doen, want koerant en plaas is albei voltyds, soos jóú sake staan. En dan moet jy besluit of jy uiteindelik wil boer. Nee, sê sy toe, boer, dit wil sy eerlik nie. Sentimenteel oor grond, dit is sy ook nie, maar sy is vir daardie plaas lief.”100

      Bouwer skryf: “Toe het Hubert aan die hand gedoen vereenvoudiging van die boerdery.” Dit het sy reeds gedoen, was die antwoord – “met kundige boere gaan bespreek en hulle het dit afgeraai”.

      Daarop vra Van Reenen toe aan Coetzee wat haar toekoms by ’n koerant sou wees. Die antwoord was in die konteks van die tyd waarskynlik grootmoedig, hoewel dit nie ’n verwysing na bevordering as redakteur van ’n publikasie ingesluit het nie. Bouwer skryf: “Toe sê Hubert: ‘Rykie, jy kan by Nas.Pers kies wat jy wil doen, enigiets, ek sal jou dit gee. En jy sal kan word wat in Amerika en Europa bekend is, die spesiale verslaggewer wat nie aldag skryf nie, maar wat, as hy die dag skryf, iets spesiaals is en skryf.’”

      Dit sou egter nog lank duur voordat Van Reenen die rol van “spesiale verslaggewer” gekry het. Later in 1964 skryf Bouwer weer aan M.E.R.:

      “Met Rykie, TaMiem, gaan dit sigbaar beter. Ek het nou eendag tyd gemaak om saam met haar Somerset-Wes [eintlik na die Strand, na haar stiefma] toe te ry sodat ons kan gesels. Sy is nou deur die stadium van twyfel of sy reg gedoen het om die plaas te verkoop. Toe sy besluit het, was sy natuurlik seker dis reg. Toe kom die vreeslike twyfel, waarin niemand haar kon help nie. Nou is sy daardeur. En, sê sy, sy het altyd gewonder of sy regtig in haarself iets het om op terug te val, want sy het maar altyd op die plaas en wat dit vir haar is, teruggeval, en nou vind sy uit, sy het dit tog. En sy werk aan Emily Hobhouse, sonder spanning, want sy hoef dit nie meer koorsagtig te doen om vir haarself te bewys sy kan nie. ’n Mens kan aan haar sien die spanning is minder. Maar dan natuurlik, Nell is vir ’n paar maande plaas toe [Vrystaat toe].

Скачать книгу