Die blou van onthou. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die blou van onthou - Marita van der Vyver страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Die blou van onthou - Marita van der Vyver

Скачать книгу

ete moet Colette en Kleinboet die skottelgoed afdroog en wegpak terwyl Mammie was, want Sina werk nie vandag nie. Colette is nogal nuuskierig oor wat Sina op haar vry Sondae doen. Die ander inslaapbediendes in die buurt is almal ouer en praat Engels, wat Sina sukkel om te verstaan, of ’n Bantoetaal, wat Sina nie eens probeer verstaan nie. Colette vermoed dat sy meestal maar in haar buitekamer bly en deur die ou tydskrifte blaai wat Mammie vir haar versamel. Toe Colette laas in die buitekamer was, het sy vir Sina gehelp om mooi kleurprente van natuurtonele uit te knip en teen die kaal mure te plak, maar Deddie het ’n stokkie daarvoor gesteek. Hou jou by jou soort, Lettie. Deddie is nooit naar met Sina nie, hy behandel haar altyd beleef, maar hy beskou haar klaarblyklik nie as van dieselfde soort as die Cronjés nie.

      Colette pak die skoon glase al fluitend weg, “Jan Pierewiet” se deuntjie wat sedert die Youth Rally in haar kop bly draai, tot Mammie agter die wasbak waarsku dat meisies wat fluit by die deur uitgesmyt word. Om die vrede te bewaar neurie sy dan maar verder, hoewel sy nog nooit kon verstaan waarom meisies mag neurie maar nie mag fluit nie. Toe sy buk om ’n stapel borde in ’n lae kas te pak, piets Kleinboet haar met ’n nat vadoek op die boud.

      “Aitsa! Hoe lyk dit dan vir my of my maer klein sussie besig is om lekker stewige Boesmanstêre te kry? Pla die kêrels jou nog nie, Lettie-lief?”

      “Moenie vir jou laf hou nie,” giggel Colette.

      “Wel, as hulle lastig word, onthou jy’t twee ouer broers wat jou eer sal beskerm. Dis meer as wat die arme prinses Elizabeth kan sê.”

      “Sy’t nie broers nodig nie, sy’t lyfwagte. Wat haar beter behandel as wat my broers my nog ooit behandel het.”

      “Hoor net daar, Ma! Het ons haar nie nog altyd soos ’n prinses behandel nie?”

      “Soos ’n prinses,” glimlag Mammie vir die skuimwater in die wasbak. “Ons eie prinses Lettie-lief.”

      “Maar as ouma Trui moet sien hoe styf daai langbroek oor prinses Lettie-lief se boude span, sal sy die stuipe kry.”

      “Op die plaas sou ek nie op ’n Sondag ’n langbroek mag gedra het nie, al het dit ook soos ’n streepsak aan my lyf gehang.”

      “En op ander dae word dit ook maar erg onwillig verduur,” sug Mammie. Vandat Deddie en oom Kleingert oor die Ossewabrandwag begin baklei het, gaan Mammie met ’n verdrietige winterse hart op Somerverdriet kuier. “Julle ouma en oupa is oud, hulle weet nie van beter nie, mens kan verstaan dat hulle nie die moderne wêreld verstaan nie. Maar daai broer van julle pa het wraggies nie ’n verskoning om so uit die oude doos te wees nie!”

      “Tannie Wilma is nog erger,” kla Colette. “Daar’s so baie dinge wat mens op Sondae nie daar mag doen nie. Jy mag nie brei of naaldwerk doen nie, dan steek jy die naald in die Here se oog, jy mag nie lag of grappies maak nie, want ná vrolikheid kom olikheid, jy mag nie langbroek of lipstiek dra nie, moenie my vra hoekom nie, jy mag dan nie eens papierpop speel nie! Nie dat ek nog papierpop wil speel nie,” voeg sy vinnig by voordat haar broer haar weer terg. “Ek sê maar net. Voel vir my al wat mens mag doen, is om handjies gevou te sit en wag dat die dag verbygaan.”

      “Terwyl die volk al die werk moet doen,” sê Kleinboet gemaak sedig. “Dan kan hulle mos in ons Blankes se plek hel toe gaan omdat hulle die Sabbat onteer.”

      “Haai nee, Kleinboet, só kan jy darem nie sê nie!” maak Mammie beswaar.

      “Is Mammie bang Ouboet hoor my?”

      Mammie skrop so kwaai aan ’n kastrol dat die skuimwater tot op die vloer spat. Gelukkig het sy ’n voorskoot bo-oor haar nagemaakte Claire McCardell-rok vasgebind. Hulle hoor Ouboet se ontstoke stem op die stoep, seker weer besig om te praat oor dinge wat Mammie nie wil hoor nie, terwyl Pappie swyend aan sy pyp sit en suig.

      Colette rangskik die swaar silwermessegoed wat hulle net Sondae gebruik in die oopklapboks met die koningsblou fluweelvoering en loer onderlangs na haar broer. In sy kakielangbroek en wit hemp, kraag oopgeknoop en moue opgerol, donker hare blink geolie en agtertoe gekam, lyk hy heelwat ouer as ’n matriekseun. Kleinboet is nie juis wat sy dashing sal noem nie, hy is te kort en stewig gebou, sy vel is te blas, sy neus te groot. En tog behaal hy baie meer sukses met die teenoorgestelde geslag as Ouboet wat gans te ernstig is om te flankeer, te besig om sy Briljante Toekoms te bou. Die pad na ’n meisie se hart loop deur haar lagspiere, beweer Kleinboet. Hy katrol die nooiens in, die een na die ander, met humor. Soos hy van kleins af sy ma en sy sussie ingekatrol het.

      Maar Colette wonder waar hy deesdae aan sommige van sy ernstiger idees kom. Voorheen het hy hulle ouer broer as ’n held beskou – sy ook, natuurlik, dis moeilik om nie geïmponeer te word deur iemand van wie daar omtrent van geboorte af Groot Dinge verwag word nie – maar toe sê Ouboet op ’n dag miskien is oom Kleingert tog reg oor die Ossewabrandwag, en dat Pappie miskien net te lief vir die Engelse is omdat hy ’n Engelse skoonpa het. Toe word Kleinboet soos ’n hond wat omswaai om sy baas te byt. En jy’t ’n Engelse oupa, het hy vir Ouboet toegesnou, en ’n half-Engelse ma! Skáám jy jou nie? Van daardie dag af kyk Kleinboet anders na sy ouer broer.

      Dis amper asof hy soms die vreemdste dinge sê net om vir Ouboet vies te maak.

      “Ouboet is nie soos oom Kleingert nie.” Dit klink of Mammie met haarself staan en praat. Sy skrop nou stadiger en staar deur die venster na die vrugtebome in die agterplaas wat hulle herfskleure begin wys. “Ek stem nie altyd saam met sy idees nie. Maar hy behoort darem nou ook nie aan die Ossewabrandwag nie, nè.”

      “Nie sover ons weet nie,” mompel Kleinboet.

      Wat Colette weet, en Mammie seker ook, is dat Ouboet brand om lid te word van ’n ander geheime organisasie vir Afrikaanse mans, die een of ander bond, maar daar kan jy nie sommer net gaan aansluit nie, jy moet wag tot jy gevra word. Deddie is nooit gevra nie. Blykbaar iets met sy half-Engelse vrou te doen, maar sy kan nie seker wees nie, want dis iets waaroor daar nooit gepraat word nie. Nie in hierdie huis of in enige ander Afrikaanse huis nie. Dis ’n geheime organisasie, onthou. Mens praat nie oor geheime nie.

      Verdere stilte

      • Colette Niemand 13/8/2007

      To ?

      Coimbra … Jinne, kind, jy lei my hart soos ’n steeks perd terug na soete waters. Al wat ek hoef te doen, is om my kop te laat sak en diep te drink.

      Maar ek sou nie daar geaard het nie. Nie in Coimbra of Sintra of Lissabon of enige van die ander oorde langs jou Portugese roete nie. Daarvan probeer ek myself immers al ’n lewe lank oortuig. En nou kom flikflooi jy oor aalwyne en bloekoms en dergelike plante wat op meer as een plek kan wortelskiet, ai tog, en ek sak weer weg in vertwyfeling en selfverwyt.

      Soete waters? Altemit. Maar vir my is daar geen rus langs daardie waters nie. Mag soet en stil wees, maar onder draai die duiwels rond. Moenie dink ek weet nie waarvan ek praat nie. My wreedste duiwel se naam is onthou en die afgelope week martel hy my weer soos lanklaas.

      Ek vermoed dis nog ’n briefie dié wat ek liewers nie vir jou sal stuur nie.

      My verlede is voorwaar alles wat ek gefaal het om te wees. Nee, dis nie ek wat so sê nie, dis al weer Pessoa. En moenie my vra waarom ek dan aanhou skryf as ek nie vir jou wil wys wat ek skryf nie. Sou dit nie ironies wees as ek hier op my oudag weer ’n joernaal begin hou nie? Asof die vorige een nie genoeg verwoesting gesaai het nie! En die vorige keer het ek ’n goeie verskoning gehad. Ek was jonk en verward. Vyftig jaar later is ek oud en verward. Hoe meer dinge verander?

      Die onthouduiwel

Скачать книгу