Fiela se kind. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fiela se kind - Dalene Matthee страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Fiela se kind - Dalene Matthee

Скачать книгу

moet ons die kind saam met ons neem,” het die dikke skielik voorgestel.

      “Dan sal julle my eers vandag moet keel-af sny!” het sy verwoed gekeer. “Dis mý kind hierdie en my kind sal hy bly. Almal in die Kloof weet dit en hou hulle bekke van hom af en nou wil julle julle pote aan hom kom sit! Jy, baas, jy,” het sy na die lange gewys, “jy’t hom in daardie Goewermentsboek ingeskryf as Benjamin Komoetie, en so sal dit opgeskryf staan tot in lengte van dae!”

      “Jy het my belieg!”

      “Net so min as wat baas die waarheid ken, ken ek die waarheid!”

      “Het jy ooit probeer om sy ma op te spoor?”

      “Nee. ’n Ooi wat lam weggegooi het, draai nie om nie.”

      Dit was die dikke wat sy kans afgekyk het om om haar te kom en die kind teen die muur vas te keer. “Oom sal jou niks maak nie, boet,” het hy paaiend gepraat. “Oom kyk sommer na jou skuitjie.”

      “Los die kind!”

      “Ek sal nie aan hom raak nie, atta. Dis ’n mooi skuitjie, het jy hom self gemaak?” Die kind het verskrik gestaan. “Oom vra maar net, oom is baie lief vir skuitjies. Het jy hom self gemaak?”

      “My pa het my gehelp, baas.”

      Sy het hulle vinnig na mekaar sien kyk oor die baas. “Hy praat agter ons aan, dit kan nie anders nie.”

      “Sê vir my, boet, hoe het jy hier gekom? Dink nou mooi, dan sê jy vir oom.”

      “Ek weet nie, baas.”

      “Ek is seker jy sal iets kan onthou as jy net hard genoeg dink. Van julle huis of van jou ma.”

      Die kind het sy potblou oë na haar gedraai asof hy by haar wou pleit om hom los te kry. Selling het verslae nader geskuifel en met die lange gepraat.

      “Julle maak die kind bang, baas. Hy ken nie ander ma nie, hy ken net vir Fiela.”

      Die lange het die boek toegeklap en die inkpot opgetel. “Ons gaan môre terug Knysna toe, ons sal gaan verneem van daardie ander kind.”

      4

      Februarie.

      Maart.

      April.

      Voorwinter.

      Dit was of die klip wat Februarie in haar gaan lê het, teen die helfte van April begin ligter word het. Sy het nie meer iedere oggend wakker geword nie en gedink: Vandag is die dag wat hulle gaan terugkom. Of in elke adder wat sy naby die huis of in die veld gewaar het, satanstyding gesien nie. Of in elke valk wat oor die huis gevlieg het of elke uil wat in die nag geroep het nie.

      Nie dat al die onrus uit haar gewyk het nie. Iewers het ’n waaksaamheid gebly wat haar soms skielik laat opkyk het as sy bo in die rantjiesveld was en haar die lang stofpad onder in die Kloof vinnig laat bespied het. Ander kere het die huis haar vasgedruk en het sy sommer op die hoek gaan staan om die pad dop te hou.

      “Hulle sal nie meer kom nie, Fiela,” het Selling eendag agter haar kom sê. Hy het geweet wat in haar hart is. “Nie nou meer nie.”

      So het die klip ligter geword.

      Hulle het die volstruiswyfie se naam Pollie gegee, en met Maartmaand se vollemaan het die mis oor Jan Koles se kop kom lê en dieselfde nag nog het die reëntjie gekom en die aarde halfspit natgemaak. Die veld was weer gelawe.

      “Kinders, van môre af moet die volstruise veld toe,” het sy die week daarna gesê. Sy het almal onder die peerboom aan’t dasvelle brei gehad, want daar moes ten minste twee nuwe dasvelkomberse voor die winter klaarkom. Al die tekens was daar dat dit ’n kapokjaar sou wees. “Petrus Zondagh sê ek moet hulle nog altyd weghou van mekaar af, daarom wil ek hê Kittie en Tollie moet die een dag vir Skopper veld toe jaag en gaan oppas, en die ander dag vat Dawid en Emma weer vir Pollie.”

      “Wat van my, Ma?” wou Benjamin onmiddellik weet.

      “Jy bly by die huis, want jy’t nie ore nie. Dit help nie ek praat en sê jy moet jou lyf weghou van die volstruise se voorkant af nie, hulle gaan nog vir jou oopskop!” Dit was warm. Sy en Kittie het die velle wat klaar was, aanmekaargewerk terwyl die ander brei. “En julle loop staan nie die voëls en aanjaag of verwilder nie, julle keer net dat hulle nie oorloop in die ou klomp Laghaans se veld in nie, en ook nie duskant in baas Petrus se lande in nie. Ek sien juis sy nuwe draad lê plat daar bo by die wabome. Die dag as ons ’n dosyn voëls pluk, laat draad ek Wolwekraal ook in en geen rondloper of sy gesant sal weer ’n voet op hierdie werf sit nie.”

      “Ma, kan Benjamin nie liewer saam met my gaan nie?” het Tollie gemor. “Ek en hy kan vir Skopper oppas. Kittie sal net weer agter die eerste bos loop lê en slaap en dan moet ek alleen na die volstruis kyk.”

      “Kittie sal agter ’n bos lê totdat ek haar daar met die riem kom uithaal!” het sy belowe.

      Dawid het ook swarigheid gesien. “Ek weet nie so mooi van Pollie nie, Ma. Sy was nog nooit weer uit daardie kamp uit vandat ons haar daar ingejaag het nie. Sê nou sy neem die loop?”

      “Ons sal maar moet sien.”

      Sy was self nie gerus oor die wyfie nie. Daar het ’n wildheid in haar gebly wat al die pamperlang van die wêreld nie uit haar kon kry nie. As háár kamp se mis die dag opgetel moes word, moes ten minste drie met die doringtakke keer om haar weg te hou van die een wat optel. Goed, daar bly maar altyd ’n bietjie van die veld in ’n volstruis agter, maar dit was al of daar ’n ekstra beneuktigheid in die wyfie is. Seker ook dié dat Koos Wehmeyer nooit weer oor die ander karwats gepraat het nie.

      Toe sy Skopper gekry het, het die mense gesê al manier om die veld uit ’n volstruis te haal, was om hom kleintyd werf toe te bring waar hy elke dag makmens kan sien. Hoe nader aan die huis jy hom op kamp sit, hoe beter. Op ses maande het sy hom so mak gehad dat wanneer die mis in sy kamp opgetel moes word, net een nodig was om met die doringtak te keer. Op agt maande het hy so mak soos ’n hoender om die huis gewei, met net Selling om ’n oog oor hom te gooi. Nie dat Selling veel van ’n oog oorhad nie, maar hy kon darem roep as die volstruis te ver loop.

      Met die wyfie het sy nie so mooi geweet nie. Van die eerste dag af was die dwars streep in haar en Fiela het gedink pamperlang sou dit uit haar uit kry: ’n lekker kossie van die tafel af, elke tweede dag vars groenkos uit die veld. Daar is vir haar ook ’n sandholte gemaak met riviersand onder van die kruis af en houtas en swawel ingeroer sodat sy haar kon skoonwoel van die luise. Enigeen wat ledig was, moes kampheining toe om met die wyfie te loop gesels. As dit die dag nie te warm was nie, het sy Selling se bankie laat aansleep heining toe en hom aangesê om die wyfie geselskap te hou solank sy hande werk.

      Soms het dit gelyk of dit help, of die wyfie nuuskierig nader kom en langnek oor die heining huis se kant toe kom loer. Ander dae het sy haar gat daaraan afgevee.

      Wanneer dit Benjamin se beurt was om met die wyfie te loop gesels, was dit nie ’n halfuur nie, dan was hy sat.

      “Ek weet nie meer wat om vir daardie voël te sê nie, Ma. Ek het haar al alles vertel wat ek weet.”

      “Loop sê vir haar ’n psalm op.”

      “Ag,

Скачать книгу