Fiela se kind. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fiela se kind - Dalene Matthee страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Fiela se kind - Dalene Matthee

Скачать книгу

style="font-size:15px;">      “Natuurlik hoor sy.”

      Tog het die wyfie mooi vet geword, mooi rond om die boude, en teen Augustus sou sy ’n goeie pluksel vere kon afstaan. Nie dat sy ooit pluime sou kon gee soos ’n mannetjie nie, soos Skopper nie. Waarom die liewe Here die wyfies so grouvaal gelos het en al die sieraad aan die mannetjies geplak het, weet geen mens nie.

      “Brei daardie vel, Benjamin, dis nie ’n stuk wasgoed wat jy was nie.”

      Die kind kan partykeer so ingedagte raak.

      Die volgende dag is die wyfie veld toe. Hulle het haar sonder baie moeite uit die kamp gekry en sy is kop in die lug al voor die kinders uit, soos een wat hoogmoedig is. Teen die middag het sy rustig in die laagte gewei.

      “Kyk daar, Selling,” het Fiela gesê en ’n oomblik op die werfbesem gerus, “kyk hoe wei sy nes ’n flerrie met ’n loslyf.”

      “Ek sien haar, Fiela.”

      “Jy jok, jy’s nes Skopper, jy kyk nie eers op nie.”

      Die veld was mooi. Teen die einde van Maart het die reën weer gekom en twee dae lank geval en die aarde goed laat natkom. Die eerste vuurpyle het bo in die fonteinkloof begin rooi word en teen die aalwynkoppe het die bitter sap in die aalwynblare begin stoot.

      “Ons kan een van die dae begin aalwee tap, Selling.”

      “Is dit nie ’n bietjie vroeg nie?”

      “Dis eerder laat. My oorle pa het altyd gesê die aalwee moet op die eerste dag van Aprilmaand drup. Teen die tyd wat die Laghaans vanjaar agterkom dat dit taptyd is, wil ek al klaar wees. Rossinski het gesê hy gaan hierdie jaar meer betaal as laas jaar se trippens die pond – Selling, watse kapkar kom daar onder in die Kloof op?”

      “Dis baas Petrus, Fiela. Jy moet ophou om vir elke kar te skrik.”

      “Mens bly maar onrustig.”

      “Fiela, jy moet met baas Petrus praat oor die kind, hy sal raad weet. Hy’s ’n goeie man.”

      “Nee.” Sy het sommer ’n paar wilde veë oor die werf gegee. “Petrus Zondagh vra my nie raad oor sy kinders nie en ek vra hom nie raad oor myne nie.”

      Sy het ’n al wyer kring skoongevee en haar oë op almal gehou. Op Selling se hande wat kort-kort wou gaan lê om te rus; op Dawid en Emma onder in die laagte waar hulle moes keer dat die wyfie nie pad toe wei nie. Sy het Kittie en Tollie dopgehou waar hulle langs die huis mielies van die stronke sit afmaak het. Sy het haar oog oor Benjamin by die sloot gehou.

      Oor Benjamin sou sy nie raad vra nie. Solank sy asemhaal, sou elke Komoetie ’n plek hê. Wolwekraal is hulle plek en Benjamin is ’n Komoetie.

      “Hou jou hoed op jou kop, Benjamin!” het sy sloot toe geskree. Die kind het ’n nuwe speletjie gehad. Elke skuit moes konsuis roeiers hê. Sy roeiers was toktokkies en die skuit wat eerste tot onder in die vangdam gedryf het met albei toktokkies nog bo, was die wenskuit. Hy het hom stokflou gedraf langs die sloot, van skuit tot skuit om die toktokkies wat afval te red.

      Die kind het diep in haar hart gestaan. Sy was nie vir een kind liewer as vir die ander nie, dis net dat ’n mens vir ’n hanslam nog jammerte ook het.

      Ja, Wolwekraal sou opgepas word. Petrus het eendag gesê die Kloof is uitgetrap en uitgedor omdat almal net plant en saai en laat wei. Die landerye is moeg van net gee en gee, jaar na jaar. Die grond moet tussenin rus kry. Van toe af het sy gesorg dat Wolwekraal se aarde gereeld rus. Die verskil kon jy sien as jy wes loop na die Laghaans se kant toe: die agt morg grond wat hulle van Koos Wehmeyer gehuur het, was uitgetrap en verrinneweer.

      “Laat werk daardie hande, Selling!”

      “Die moegte is vandag in my, Fiela, ek weet nie wat dit is nie.”

      “Die son sit nog te hoog vir moegte kry. Werk!”

      Teen die einde van April het ’n ander ding haar begin pla. Dit was meer as vier weke vandat die volstruise om die beurt bedags veld toe gejaag is, maar Skopper het nog geen teken getoon van bekwaam raak vir wyfie vat nie.

      “Kyk hoe uitgemes is hy, Selling!” het Fiela moedeloos geskel. “Blink en sterk, maar nie ’n teken dat sy skene of sy bek wil rooi word nie. Hy kyk nie eers na die wyfie nie.”

      “Jy’s te haastig, Fiela. Jy’t self gehoor baas Petrus sê dit kan tot anderjaar toe loop voor hy reg is vir die wyfie.”

      “Ek kan nie wag tot anderjaar nie, ek wil laat broei. Wolwekraal moet baie volstruise grootmaak, baie pluksels vere wen. Die prys loop hoër en hoër en daar moet geld in die trommel onder die kooi wees as die Laghaans die dag tot niet gesuip is.”

      “Waarvan praat jy nou, Fiela?”

      “Ek wil die Laghaans se agt morg huurgrond bykoop.”

      “Jy droom seker. Hoeveel keer het baas Koos jou al kom vra om hierdie twaalf morg van jou oorle pa aan hom terug te verkoop? Hy sal jou nooit nog agt morge laat bykry nie, hulle wil nie meer stukkies grond in bruin hande sien nie.”

      “Van mý twaalf morg kan hulle vergeet. En die agt morg langsaan sit ek op Benjamin se naam. Hy’s wit.”

      “Wie sê die Laghaans sal huur opsê?”

      “Hulle moes laas jaar bokke verkoop om ou huur te betaal. Wag maar, jy sal sien … Die volstruise moet net eers broei. Ek sê vir jou, Skopper is te uitgevreet. Hy’s te vet. Petrus sê dit kan wees dat hy te lui is vir wyfie vat. Ek dink ek sal hom van môre af ’n bietjie uithonger en kyk wat gebeur.”

      “Wie sê Pollie is reg vir mannetjie vat? En wie sê Skopper gaan haar vat as jy hulle die dag saam afkamp? Ek het gesien dat ’n mannetjie ’n wyfie uitmekaar baklei as sy hom nie aanstaan nie.”

      “Ek knoop sy nek vir hom as hy haar nie vat nie.”

      “Jy sal tog sý nek knoop.”

      “Hy beter haar vat. Kyk hoe mooi het sy geword. Toe sy die dag hier aangekom het, het sy gerank om die boude en ’n skone riempens gehad. Kyk hoe bult sy nou uit. Nee, Selling, ek kan nie tot anderjaar wag nie, hulle moet vanjaar nog broei.”

      “Kollie van baas John Howell sê hulle gee die mannetjies goed in wat ’n oubaas op Oudtshoorn aanmaak. Dit bring hulle glo aan.”

      “Wat? Jy sal maak dat ek ’n emmer vol loop haal en vir hom injaag!”

      “Hou maar net vir Pollie ook ’n beker vol oor,” het Selling gemaan, “ek dink nie sy is al reg nie.”

      Toe was die onrus oor die volstruise van twee kante af in haar.

      En dit was die dag daarna, toe sy en Kittie in die kombuis besig was met die kos, dat Benjamin al skreeuend oor die werf huis toe gehol kom.

      “Ma! Ma! Ma!”

      Die stuk vuurmaakhout het sommer uit haar hande geval van die skrik. Die eerste ding wat in haar opgekom het, was dat die twee opskrywers op pad is. Voor die agterdeur het die kind haar amper onderstebo gehol en sy hande het haar voorskoot beetgekry en begin pluk en pluk.

      “Ma!

Скачать книгу