Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter страница 17
Ek het hom dié keer ook nie hoor inkom nie, net skielik sy hande oral oor my lyf gevoel. Gelukkig het Carli in daardie stadium begin huil en hy het vinnig omgedraai en uitgestap.
“Hoe het ek in hierdie gemors beland?” Terwyl ek stadig op my knieë sak: “Hoe?” Terwyl die warm water met die trane meng: “Hoe, Here? Hoe?”
Daardie aand het ek nie soos gewoonlik vir almal naggesê toe dit tyd word om te gaan slaap nie, ek het weggesluip. Nie my lig aangesit nie, nie my gordyne oopgetrek nie. Plat op die vloer, met die bed tussen my en die venster, het ek gaan lê en my pajamas aangetrek.
Hy het later as gewoonlik die deur saggies oopgemaak. Toe ek my oë oopmaak – dit het nie meer gehelp dat ek maak of ek slaap nie – staan hy in die halfdonker met sy ding in sy hand. Styf, regop.
“Stoute meisies moet gestraf word,” het hy saggies gefluister, “jy wou mos nie uittrek nie, wou nie my geld vat nie, ek gaan jou straf.”
Hy was vrolik! Vir hom was dit ’n avontuur, het ek besef.
“Wat gaan jy doen?”
“Jou ma vertel my mos dat jy nou ’n groot meisie is. Groot meisies doen nie net wat ons altyd doen nie, groot meisies doen wat hulle ma’s ook doen.”
“Asseblief, moenie, los my uit. Ek sweer ek sal vir niemand ooit vertel nie, los my net.”
“Anna, ek help jou. Hoe sal jy ooit vir jou man ’n goeie vrou kan wees as jy nie die fynere kunsies ken nie? Mans hou van vrouens met ondervinding. Ek wil net die beste vir jou hê. Ek sal jou nie seermaak nie, jy sal dit net so baie soos ek geniet.”
“Ek sal skree!” het ek in desperaatheid uitgeroep, al het ek geweet hy weet ek sou dit nie waag nie.
Hy het die komberse van my weggetrek, toe omgedraai deur toe. Ek het gehoop, gegló, dat hy hom bedink het, maar hy het slegs seker gemaak dat hy die deur agter hom gesluit het. Hy het sy slaapbroek stadig laat sak. Hy sou tog nie? Hy kón tog nie …
“Trek uit. Alles,” het hy sissend gefluister, “en as jy durf waag om te huil of te skree en jou soos ’n kind te gedra, is dit verby met jou en jou ma.”
Ek het geweet hy was ernstig. ’n Man wat so iets aan ’n kínd, sy vrou se kind, doen, het nie ’n gewete nie. Ek het my nagklere met rukkerige bewegings uitgetrek. Eenkant gegooi. Gewag op wat sou kom. Die pyn toe hy homself in my indruk, was die ergste wat ek nog beleef het. Ek sou kón geskree het, as dit nie was dat hy met sy een hand my mond toegedruk het nie. Hy het met ’n kreun gekom, ’n rukkie op my bly lê. Ek het gevoel of ek versmoor. Ek kon sy hart hoor klop, vinnig. Die naarheid in my keel het ek teruggesluk. Hy het sonder ’n verdere woord opgestaan, sy klere aangetrek. Toe ek die toilet hoor spoel, hulle kamerdeur hoor oopgaan, het ek stadig opgestaan. Die slymerigheid in die badkamer gaan uitwas.
Queenstown se liggies lê agter my, ek is op pad Aliwal-Noord toe. Ek is op pad om my te wreek, ek is op pad om my lewe terug te vat. Nie te vra nie. Nie te bedel nie. Te vat. Dit kom my toe.
Ek het myself met moeite die volgende oggend uit die bed gesleep. Na die bloed en pie op die laken gestaar.
“Wat is dit vanmôre met jou?” My ma het agter my gestaan. “Jy is erger as ’n ou vrou, toe-toe, die ontbyt word koud.”
Ma, ek is seer! Ma, ek dink nie ek sal kan loop nie. Ma, hy het my gesteek, hoor Ma my? Kyk vir my, Mamma, kyk vir my.
Sy het omgedraai en kombuis toe geloop. Hoekom kon ek die woorde dink maar nie sê nie? Die geur van gebakte eiers en spek het deur die oop deur gekom, my naar gemaak, ek het die badkamer net-net gehaal.
Sy het benoud in die deur kom staan. “Is jy siek, my skat? Hoekom het jy nie vroeër gesê nie? Gaan lê, Mamma bring vir jou ietsie.”
Ek het dankbaar in die bed teruggeklim, die handdoek stywer om my gedraai, die tablet wat sy na my uitgehou het, gesluk. Die roosterbrood en tee het onaangeraak op my bedkassie bly staan.
“Dink jy ooit aan seks?”
Helena het dié dag direk ná skool na my kom soek, my ma het vir ons kos kamer toe gebring, en ek het dankbaar my deur agter haar toegemaak. Ons het op die mat gesit, die radio net hard genoeg gestel sodat ons gesprek privaat kon bly.
“Hoe bedoel jy?” Sy het groot happe van my ma se bobotie gevat.
“Ek …”
“Anna, vra wat jy wil vra. Bedoel jy seks in die algemeen of seks met Deon?” Deon was haar ou. Hy was in standerd nege, het eerstespanrugby gespeel. Al die meisies in die skool het ’n crush op hom gehad, maar hy het net oë vir die petite Helena gehad.
“Wel, al twee. Het jy al?” Het sy al? Sou sy? Sy wat altyd vir almal, Deon inkluis, vertel dat sy nooit ’n man se vloerlap sal wees nie?
“Ek het nog nie, maar deesdae dink ek al meer dat ek sou kon, met Deon. Ons het al, jy weet, gevat, maar nog nooit verder gegaan nie.” Sy kon my nie in die oë kyk nie, het heeltyd met haar skoen se gespe gevroetel.
“Maar as julle sou, is jy nie bang dat jy kan swanger raak nie?”
“Anna, partykeer dink ek jy is twaalf! Weet jy nie van so iets soos kondome, pille, inspuitings nie?”
Ek weet nie, nee. Nie juis nie.
“Maar waar kry mens sulke goed?”
“By die klinieke, en as jy ’n aktiewe suster soos myne het, by haar. Dit is die laaste ding waaroor ek my bekommer.”
“Waaroor bekommer jy jou dan?”
“Hulle sê dis seer, die eerste keer.” Sy het haar kop opgelig en na my gekyk. “Maar Deon sê dis nie so erg nie, dit bloei net ’n rukkie en ’n mens moet aanvanklik ly om dit werklik te geniet.”
Moenie! wil ek vir haar skree, moenie, dis nie net ’n bietjie seer nie, dis verskriklik seer, dit bloei nie net ’n bietjie nie, dit bloei baie! Moenie, want dis nie waar dat dit lekker is nie, dis seer, dis vernederend, hy stomend, stoeiend, rukkend bo-op jou. Moenie! Maar ek sê niks. Soos gewoonlik. Ek het nie woorde om my vriendin te waarsku nie. Ek kan nie. Wil, maar kan nie. Moenie, Helena, moenie, nooit nie.
“Het jý al?”
“Nee!” Ek het dit vinnig in haar gesig gesê.
“Ek het nie so gedink nie, hoor. Deon sê al die seuns is mal oor jou maar ook bang, jy laat hulle minderwaardig voel, jy kyk dan nooit eens vir hulle nie al probeer hulle jou ook hóé beïndruk.”
“O!” Ek was regtig nie bewus daarvan nie, om die waarheid te sê, ek het nooit eens aan die moontlikheid van ’n ou gedink nie.
En tog, dit sou lekker wees om iemand te hê wat saam met jou na sokkies kon gaan, of na jou opvoering kon gaan kyk, selfs te soen, nét te soen. Ek het nog nooit ’n seun gesoen nie, het ek met verwondering gedink. Nog nooit. Mens sou dink met my “ondervinding” dat dit die eerste ding sou wees wat ek sou baasraak, maar godsgeluk, hy het my nog nooit gesoen nie. Die vraag is natuurlik of ek wou hê dat ’n seun mý soen, ek dink ek sou dit meer geniet as ék die soene uitdeel. Ek sou besluit met wie, waar, hoe en tot waar daar gevry word. Ek. Nie ’n man nie. En wanneer