Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe). Anchien Troskie as Elbie Lötter
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dis ek, Anna: die volle verhaal (filmuitgawe) - Anchien Troskie as Elbie Lötter страница 18
“Anna, ek sukkel vreeslik met my pirouettes,” het Helena op ’n dag gekla. “Jy’t mos gehoor hoe Miss Dolly aangaan omdat ek nie my kop vinnig genoeg draai nie, ek weet nie hoekom sy so ’n moeilike stuk uitgedink het nie. Sal jy my asseblief ná skool daarmee help? Jy doen dit volmaak, soos sy altyd vir my sê, toe man, jy doen tog niks vandag nie, en my pa het vir my die garage as dansateljee ingerig.” Verwytend het sy bygevoeg: “Jy’t nog nie eens kom kyk nie.”
“Ek kom ná middagete. En in elk geval, dit is nie so ’n moeilike stuk nie, ons gaan ‘spectacular’ wees, om Miss Dolly aan te haal.”
Sy het gelag, ’n paar wilde draaie gemaak, ’n volmaakte curtsy gedoen. “Help my tog net om spectacular te wees, en daarna gaan ons af strand toe. My pa is by die huis, hy sal ons gaan aflaai.”
My hart was ligter toe ek by die huis kom.
“Ma, ek gaan vir Helena vanmiddag help met haar turns, en daarna wil ons graag strand toe gaan, sal dit reg wees? Ek sal nie te laat terug wees nie.”
“Het jy nie huiswerk nie? Ek wil nie hê dat jou buitemuurs met jou akademies moet inmeng nie, jy weet hoe ek daaroor voel. ’n Mens kan niks in die lewe vermag sonder ’n goeie akademiese agtergrond nie.”
“Ja, Maaa.”
“Moenie so met my praat nie!” En toe sagter: “Jy kan gaan, solank julle net nie verwag dat ek julle moet heen en weer karwei nie.”
“Nee, Ma, Helena se pa is by die huis, hy sal ons vat. Sal Ma my asseblief, groot asseblief, net by haar gaan aflaai? Ek sal haar pa vra om my weer hier te kom aflaai.”
Sy het gesug, haar oë gerol, maar dit in elk geval gedoen. Ek het geweet sy sou. My ma het die manier gehad om altyd te maak asof alles wat ek haar vra, vir haar te veel moeite was, maar ek het geweet dit was net kamstig. Al my vriende was bang vir haar, sy het altyd gelyk asof sy jou enige oomblik gaan invlieg oor iets, tog het ek geweet sy was nie so nie. Dit was maar haar manier. Ek dink dit was sodat almal wat haar ontmoet, van die begin af moes weet dat mens nie met haar kanse waag nie.
Soms het ek gewéét dat sy vir my lief is.
“Dis mooi!” het ek verras uitgeroep toe Helena die binnedeur van die garage met ’n swaai van haar hand vir my oopmaak. Dit wás mooi. Haar pa het baie moeite gedoen.
Daar was ’n barre teen die een muur en genoeg vloerspasie om ’n opvoering te hou. Ook, het ek verras opgemerk, ’n nuwe hoëtroustel.
“Dankie! My pa het alles self gedoen, ook die posters gaan uitsoek en opgeplak.”
Daar was ballerinas teen die mure, selfs ’n prent van klein pokkelkinders in pienk tutu’s.
“Ek het gedink ons oefen net so ’n uur en dan kan ons strand toe gaan. My pa moet ’n kliënt by die kantoor gaan spreek, dit behoort ongeveer twee uur te duur, so, ons kan vir twee volle ure op die strand lê en bruin word. Dis al somer en kyk hoe wit is ek nog.”
Die hele volgende uur het ons hard geoefen, haar pirouettes was vreeslik. Ek moes haar gereeld stop en dit weer laat doen.
“Nee, Helena, jou kop moet vóór jou lyf vorentoe kyk, hulle kan nie saam wees nie.”
“Ek kan in elk geval nie verstaan hoekom nie, die mense behoort na ons voete te kyk, nie ons koppe nie.”
Ek het net gelag. “Kom ons probeer dit weer.”
Haar pa het ons daar in haar “ateljee” kom roep, hy was gereed om te ry.
Daar was min mense op die strand, meesal net ou tannies en ooms, soos gewoonlik op weeksdae. Ek kon my altyd verkyk aan hulle; buite die water was hulle net ou mense, maar sodra die eerste brander oor hulle breek, het hulle in baldadige tieners verander. Of miskien ook nie tieners nie, óns was te bewus van ons lywe om baldadig te wees. Sommige van ons kón nie baldadig wees nie. Ek het ouer as al die ooms en tannies op die strand gevoel. Oud en … opgebruik.
Daar was natuurlik ook die gewone ma’s met hulle boepmagies, en kleuters. Ons het ’n plekkie ver van almal maar na aan die water gekies, ons handdoeke oopgegooi, boklere uitgetrek en gaan lê.
“Jy’t ’n bikini aan!”
“My ma het gekoop, sy koop altyd vir my een. Sou eerder ’n eenstuk wou hê.”
“Soms is ek regtig jaloers op jou.”
Ek het verras na Helena gekyk. “Hoekom?”
“Kyk jy nooit in ’n spieël nie? Jy het die mees perfekte lyf wat ek nog ooit gesien het, en voor jy weer dink ek lieg, almal sê so. My ma, my pa, selfs my sussies. My ma noem jou Lyf. Soos in: wanneer kom Lyf weer vir ete.”
“Jy’s laf. Dis seker my bikini wat die verskil maak. Jy het self die mooiste lyf. Veral jou bene.”
“Anna,” – sy het soms nes my ma geklink – “ek mag dalk nie ’n te slegte lyf hê nie, maar jy het daardie iéts, almal sien dit raak. Mens kan nie help om dit raak te sien nie. Ek dink dis wat hulle bedoel met sex appeal.”
“Soos in almal wat na my kyk, wil my steek?” Ek was vies, vir Helena én vir myself. Veral vir myself. Ek moes nooit die vervlakste bikini aangetrek het nie, volgende keer kom swem ek in ’n duikpak!
“Nou is jy onregverdig. Jy weet goed dis nie wat ek bedoel het nie.” Sy was seergemaak. Ek kon dit aan haar stemtoon hoor.
“Ek is jammer. Ek weet nie wat dit met my is nie. Die ding is, dis net ’n lyf, Helena. Ek wil nie hê dat mense net my lyf raaksien nie. Ek wil raakgesien word vir wie ek is, nie oor hoe ek lyk nie.”
“Is dit hoekom jy altyd sulke vreeslike oorgroot klere dra? Ek sweer, as ek nie van beter geweet het nie, sou ek gedink het jy koop vir die volgende vyf jaar. Ek’s jammer, Anna, ek het dit nie sleg bedoel nie, dalk het dit verkeerd uitgekom juis omdat ek bietjie jaloers is. Ek het dit as ’n kompliment bedoel. Dis goed, dis mooi, dis al.”
“Behalwe dat my maag al weer so geswel is, kyk hoe lyk dit, dit lyk kompleet of ek swanger is.”
“Hoekom sê jy nie jou ma nie? Daar is so iets soos dokters, jy weet.”
My maag het die laaste tyd om geen rede hoegenaamd met tye begin swel. Dit het soms ’n dag geduur, ander kere langer en dan weer net so verdwyn.
“Ek weet ek moet iets daaraan doen. Dis net dat my ma deesdae so besig is. Daardie sussie van my is ’n hand vol.”
“Sê haar nogtans.”
Dit was ’n onvergeetlike middag. Die lug was blou, die see was blouer, die sand spierwit; daar het net ’n ligte briesie van die see se kant af gewaai. Ons het gaan swem, ons argument van vroeër lankal vergete.
Toe ons weer uitasem op ons handdoeke neersak, sê Helena: “O ja, moenie uitfreak nie, maar Marnus, jy ken mos vir Marnus, hy speel saam met Deon rugby, het my gevra om jou te vra of jy saam met hom na die skoolsokkie sal gaan. Dis mos dié keer die aand ná skoolsluiting. Ek en Deon gaan ook,