Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 12
Haar moeder is in 1927 weer getroud met Piet Wessels, ’n onderwyser wat later hoof sou word van die Hoërskool Monument op Krugersdorp, waar die gesin hulle gevestig het.
Huberte matrikuleer jonk aan die Hoërskool Monument nadat sy haar eerste drie skooljare in een jaar voltooi het. Vandat sy skool toe is, stel sy belang in die kunste in alle vorme. Sy speel toneel en sing hoofrolle in operettes sowel as in die skoolkoor en neem deel aan korfbal en hokkie.
Ná matriek beklee sy veertien maande lank die pos van kinderbibliotekaresse op Krugersdorp voordat sy met behulp van drie rentedraende lenings universiteit toe gaan. Haar hoofvakke is Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse kultuurgeskiedenis. In haar eerste jaar in Pretoria raak sy goed bevriend met Kotie Roodt-Coetzee, dosent in kultuurgeskiedenis, wie se eggenoot, prof. P.C. Coetzee, die UP se bibliotekaris, van Huberte se biblioteekervaring te hore kom. Huberte kry daarna ’n pos in die biblioteek en haar klasgeld word haar toe kwytgeskeld. Sy pak gevolglik saam met haar B.A.-kursus ’n diplomakursus in die biblioteekwese aan, wat toegelaat is op voorwaarde dat sy twee aande per week in die biblioteek diens doen. Sy werk ook in die kampus se nuwe Merenskybiblioteek, die gebou in Persiese boustyl met Afrikamotiewe wat deur die argitek Gerard Moerdyk ontwerp is en as ’n voorloper vir sy uitleg van die Voortrekkermonument beskou word.
Rupert, wat meermale in sy loopbaan dankbare erkenning aan Huberte sou gee, roep hul studentedae in herinnering toe hy in sy voorsittersrede op Rembrandt Beherende Beleggings se jaarvergadering in 1996 hulde aan sy eggenote bring:
“Ek kyk vandag terug oor 55 jaar waarin ek deur my wederhelf bygestaan is. In 1941 reeds het sy ’n groot rol gespeel, nie net in my lewe nie, maar ook in dié van die maatskappy. Sy was my mees lojale en troue ondersteuner en ook my grootste kritikus. Ek dink dit hoort so.”
Hy beskryf die moeilike beginjare: “Ons is beide kinders van die Depressie. In daardie dae . . . was omtrent ’n derde van alle Afrikaanssprekende blankes werkloos. Vandag is dit nog erger, met sowat 50% van die bevolking sonder werk. Dit was destyds ’n enorme probleem. Ek dink dit laat ’n merk op ’n mens en dit laat jou miskien op ’n ander manier na kapitaal kyk.
“Diegene wat motors gehad het (ek dink daar was drie aan die Pretoriase Universiteit in daardie dae uit ’n totaal van omtrent 820 studente – vandag is daar 26 000 studente), het nie goed gedoen nie. Beide my vrou en ek het geld geleen om te studeer.
“Ek kon self net £100 bybring, maar was gelukkig genoeg om met ’n intelligensietoets ’n prys van £40 per jaar vir drie jaar te wen. Ons het egter die beskouing gehad dat geld is wat geld kan doen. Soms is dit ’n gevaarlike ding. Geld is soos ’n mes wat ’n snyarts kan gebruik om ’n operasie te doen, ’n mens se lewe te red. Dieselfde mes kan deur ’n moordenaar gebruik word om te moor. Geld is ook soos ’n tou. Jy kan die tou uitgooi in die vorm van ’n boei om iemand te red, of jy kan die tou gebruik as ’n galgtou. Dit is geld. Dit praat.”
As eerstejaarstudent is Rupert een van twee studente uit ’n klas van sewentien wat slaag met die nodige vereistes om aan die universiteite van Kaapstad of die Witwatersrand verder medies te studeer. Geldnood dwing hom egter om sy kursus na chemie vir ’n Baccalaureusgraad te verander.
Hy vertel self dat hy daarna as voorgraadse student nie watwonders akademies gepresteer het nie. Die oorsaak was dat hy in sy tweede studiejaar ’n maand of twee, drie geen lesings kon bywoon nie omdat hy middeloorontsteking opgedoen het, wat in daardie jare nie met antibiotika behandel kon word nie. Hy het ’n gat agter sy oor oorgehou van die destydse taamlik primitiewe doktersbehandeling.
Hy voltooi nogtans sy graadkursus, met chemie as hoofvak en fisika en wiskunde as tweedejaarsvakke, in die voorgeskrewe drie jaar, en einde 1936 kon hy B.Sc. agter sy naam skryf.
Die volgende jaar moes hy begin werk terwyl hy nagraads studeer. Hy begin op 20-jarige leeftyd aan die Tegniese Kollege klas gee nadat hy hom ook vir sy
meestersgraad in chemie ingeskryf het. “Dit was moeilike dae. Betrekkings was beslis nie volop nie, en jy was dankbaar as jy ’n werk kon kry,” vertel hy op 22 Augustus 1972 aan studente van die UP.
Die gemiddelde ouderdom van die buitemuurse aptekerstudente vir wie hy lesings gee, was 28, dus is hulle heelwat ouer as hyself. Hy begin algaande dink dat hy Afrikaners oplei om vir vreemdelinge te werk.
Die staatsdiens was sedert Lord Milner se “Kindergarten”, die groepie Engelse wat hy ná die Anglo-Boereoorlog uit Oxford laat kom het om die landsadministrasie oor te neem, oorweldigend Engels. In 1925 was byna ’n derde van die staats-
amptenare Engels-eentalig. Op kantoor het die taal oorwegend Engels gebly, aan-
gesien die hoofamptenaar gewoonlik Engelstalig was.
In die sakelewe is van Afrikaners verwag dat, as hulle deel van die sake-elite wou word, hulle hul etniese bande moes versaak en Engels as kommunikasiemedium moes gebruik.
Baie Afrikaners het aangevoel dat Engelse op hulle neersien en hul taal en kultuur as minderwaardig beskou. Steeds was onder heelparty Engelse ’n gevoel vaardig wat tydens die Anglo-Boereoorlog, toe die Engelse koerante in Suid-Afrika oorwegend imperialisties-gesind en anti-Boer was, hoogty gevier het. Van die ergste jingoïsme het in die omgewing van Graaff-Reinet voorgekom.2
In die anti-Afrikaanse atmosfeer, wat ná die oorlogsbesluit van 1939 sou vererger, is byvoorbeeld lidmaatskap van die Rand Club geweier aan die briljante chemiese ingenieur dr. Hendrik Johannes van Eck, wat in Vanderbijlpark die hoeksteenlegger van die verdedigingspoging was. Hy was later die voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en is as die vader van Suid-Afrika se nywerheidsrevolusie beskou.
Anton Rupert het al hoe sterker tot die oortuiging geraak dat die Afrikaners ’n eie staanplek in die sakelewe moet verwerf.
Die jaar toe hy begin klas gee, 1937, verskyn ’n nuwe Afrikaanse oggendblad, Die Transvaler, in Johannesburg. Anton doen aansoek om daar te gaan werk en voer ’n onderhoud met die redakteur, dr. H.F. Verwoerd. Ná ’n nag se oorweging
wys hy ’n redaksionele betrekking van die hand omdat Hendrik Verwoerd be-
klemtoon dat hy slegs deur middel van ’n korrespondensiekursus verder kon stu-
deer. Sy besluit om terug te gaan en verder te studeer, beskou hy mettertyd as een van die belangrikste vroeë besluite wat hy geneem het – een van dié “wat my altoos helder voor die gees staan”.
Anton het nie ’n goeie indruk van die latere eerste minister oorgehou nie. Hy meen Verwoerd het in die onderhoud voorgekom as ’n “onrustige mens; ’n bietjie outokraties en eiewys” – ’n indruk wat in sy latere botsings met Verwoerd korrek bewys is.