Anton Rupert: 'n lewensverhaal. Ebbe Dommisse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse страница 7

Anton Rupert: 'n lewensverhaal - Ebbe Dommisse

Скачать книгу

dr. O.R. (Boy) van Eeden, destydse hoof van Geo­lo­giese Op­names in Pretoria en ’n neef van Anton, ’n vrugteboord en wingerde, ’n smids­winkel, ’n brandewynstokery, ’n koringmeul, skaaptroppe en volstruise, waarvan die vere in die begin van die twintigste eeu hemelhoë pryse opgelewer het.

      Sedert 1884 neem Oom Kootjie aktief aan die politiek deel, onder meer 22 jaar as voorsitter van die distriksbestuur van die Afrikanerbond, en hy is ook assistentveldkornet, voorsitter van die skoolkomitee, ouderling in die kerkraad en lid van die runderpes- en die brandsiektekomitee.

      Hy word in die Anglo-Boereoorlog, waarin sy simpatie sterk aan Boerekant lê, ’n ruk op Port Alfred geïnterneer. Dit gebeur terwyl die oorlog teen die Brits-im­pe­riale oormag teen die einde in groot mate in Kaapland woed as gevolg van invalle uit die Boererepublieke Transvaal en die Vrystaat.

      Sy twee oudste seuns, Frederick (Frik) en Francois (Soois) – ouer broers van mev. Hester Rupert – het hulle op 7 Maart 1901 as jong seuns by die verby­trek­kende Boerekommando van kmdt. Willem Fouché aangesluit. Ná ontberings op kommando het hulle hulle aan die Engelse kolonne oorgegee. As Kaapse rebel is die 17-jarige Soois op Graaff-Reinet deur ’n krygshof skuldig bevind aan hoog­verraad, strafbaar met die dood, maar hy is deur lord Kitchener begenadig en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis. Die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 bevoor­deel hom, want ná net ses maande in die tronk op Grahamstad word ’n vry spoor­wegpas op 26 September 1902 aan hom uitgereik en kon hy huis toe gaan.

      Die jongste seun van die Van Eedens, hul vierde seun, is op 27 Maart 1901 ge­bore. In die naweë van die oorlog wat uiteindelik as die begin van die einde van Britse imperialisme beskou sou word, word hy met die enkele naam Smartryk gedoop. Sy naam verwoord die emosies van duisende Afrikaners, ook in die Kaap­kolonie, wat gely en in armlastigheid verval het as gevolg van die konflik. Vir sulke Afrikaners, ook in Oos-Kaapland, was die oorlog ’n ramp. Honderde het op die rand van hongersnood gestaan. Boonop het die Britse regering se ka­rige aanbod van £3 miljoen skadevergoeding aan die einde van die oorlog ver­dere bitterheid veroorsaak. Louis Botha, die eerste premier ná Uniewording in 1910, wat ’n aanbod van £900 vergoeding vir £20 000 se oorlogskade ontvang het, het die tjek teruggestuur.

      Oom Kootjie, hoewel sonder veel boekgeleerdheid, is as ’n leier en raadgewer in die gemeenskap aanvaar. Hy en die predikant van Jansenville het meermale die sportbyeenkomste toegespreek wat ná Uniewording in 1910 jaarliks op Unie­dag, 31 Mei, op die plaas De Toekomst van ’n welgestelde boer, mnr. P. Weyer, gehou is. Wyse woorde van Oom Kootjie, aanduidend van die kaliber van ’n oupa wat Anton Rupert in sy vormingsjare leer respekteer het, word soos volg in ’n koerantberig aangehaal: “. . . the common fault on the sportsground, as well as in life, is to look at the man who is behind you. If we could keep the man in view who is ahead of us and make it our object to catch up with him the number of poor people would certainly decrease.”2

      Nog ’n groot invloed op die jeugdige Boetie Rupert is uitgeoefen deur die verhaal van die Boereheld Gideon Scheepers, wat in die Anglo-Boereoorlog op 23-jarige leeftyd op Graaff-Reinet deur die Britse magte gefusilleer is.

      Kmdt. Scheepers, van wie ’n standbeeld en ’n gedenksteen op die dorp staan, was ’n baasverkenner wat ’n skouspelagtig suksesvolle guerrilla-inval in die Kaap­kolonie gelei het voordat hy gevang is – volgens sommige hardnekkige bewe­rings nadat ’n verraaier hom as die Boere se befaamde Scarlet Pimpernel ver­gif­tig het, volgens ander rapporte nadat hy blindedermontsteking opgedoen het.

      Anton Rupert oordeel self dat die verhaal van Scheepers soos sy vader dit aan hom vertel het, sy hele lewe verander het. Sy vader was as 13-jarige seun teenwoordig by die uitspraak van die Britse krygshof op Kerkplein op Graaff-Reinet.

      Die vervolging van Scheepers was ’n skouverhoor wat Kaapse republikeinsgesindes ’n les moes leer – juis terwyl die oorlog Brittanje in Rudyard Kipling se frase “no end of a lesson” geleer het. Die Britse offisiere het Scheepers, wat heelparty Kaapse rebelle oorreed het om hulle by die Boeremagte aan te sluit en self getuig het dat hy sowat 1 300 Britte krygsgevange geneem het, ná aggressiewe vervolging aan dertig beweerde oorlogsmisdade skuldig bevind en ter dood ver­oordeel. Die vonnisse en teregstellings moes op bevel van genl.maj. John French in die openbaar plaasvind. Geblinddoek en sittende op ’n stoel is Scheepers die volgende dag, 17 Januarie 1902, op sy moeder se verjaardag, deur ’n vuurpeloton van die Coldstream Guards tereggestel. Ongebluste kalk is oor sy lyk in die graf by die toneel gegooi, maar sy oorskot is vermoedelik dieselfde nag verwyder om herbegrawe te word en het spoorloos verdwyn.

      Hy was een van agt mense wat op Graaff-Reinet tereggestel is terwyl die meeste dorpe in oorlogstyd in die Kaapkolonie onder die fel omstrede krygswet en mili­têre sensuur was. Soos die konsentrasiekampe, wat die lewens van 28 000 vroue en kinders geëis het, en die Britse opperbevelhebber, lord Kitchener, se beleid van “verskroeide aarde”, waardeur honderde plaashuise afgebrand en veetroppe ver­nietig is, het die teregstellings van Kaapse rebelle en Boerekrygers bittere verset uitgelok. Sowat veertig rebelle het in die Kaapkolonie so hul lewe verloor, skrei­ende teregstellings wat die inspirasie vir die digter-dokter Louis Leipoldt se pro­tesgedig “Oom Gert vertel” was. Soos elders het die teregstellings die gevoelens van republikeinsgesindes op die verdeelde dorp erg laat verhard.

      Op die nabygeleë Oudtshoorn het die onregverdige skynverhore van krygsgevangenes die skrywer C.J. Langenhoven, aanvanklik ’n anglofiel wat destyds as regsgeleerde die sake van Kaapse rebelle behartig het, so gekrenk dat hy hom aan die militêre howe onttrek het. Hy het ook as aanvanklike voorstander van Engels as amptelike taal omgeswaai tot een van die vernaamste Afrikaanse taal­stryders en skrywer van die volkslied “Die stem van Suid-Afrika”.

      Die martelaarsgeskiedenis van Scheepers, geen Kaapse rebel nie maar ’n Oos-Transvaler wat ’n bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie was, word een van die treurigstes uit ’n oorlog wat ’n blywende letsel op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelaat het. Sy graf is nooit gevind nie.

      Sy moeder se jare lange soektog na sy stoflike oorskot is nooit beloon nie, en op haar honderdste verjaardag in 1956 sê sy dat sy nie vergeet nie, maar ver­gewe: “Laat ons eerder in liefde en vrede lewe as een onverdeelde volk.”3

      Scheepers het ’n legende in Suid-Afrika geword; onder meer is drie gedigte oor hom geskryf. In sy aangrypende “Gebed om die gebeente” weerspieël Dirk Op­per­man die aanroeping van die treurende moeder van Scheepers, ’n kranige heliografis:

      Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd (. . .)

      (. . .) dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas

      met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,

      en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas

      ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.

      Digterlik het Opperman, ’n goeie vriend van die Ruperts, hier ook die idee van saambestaan vasgevang, wat as ’n leitmotiv deur die hele loopbaan van Anton Rupert sou strek nadat hy op vroeë leeftyd reeds begeester is deur die legende van Scheepers – hy wat, in Opperman se woorde, “leef in hierdie land nou ewig en altyd!”

      As jong seun maak Boetie Rupert ook kennis met ander Boerehelde. Een van hulle is kaptein Henri Slegtkamp, wat saam met die Skot Jack Hindon lid van Danie Theron se Verkennerskorps was. Op besoek aan Graaff-Reinet boei Slegt­kamp, ’n uitmuntende raconteur, die jong Rupert met sy verhale van die Boere­oorlog. Hy het as jong Nederlander na Suid-Afrika gekom “om avontuur te soek”; hy het in Transvaal geveg teen die Jameson-inval van 1895-’96, wat deur die geskiedskrywer C.W. de Kiewiet as “die mees berugte insident in die ge­skie­denis van die Britse empire” bestempel is; en hy het dadelik op kommando ge­gaan toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek. Die skrywer Dirk Mostert het uit Slegtkamp se oorlogsdagboek

Скачать книгу